Geboorte van die Afrika-unie en die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling
(Afrikaans)

Die geboorte van die Afrika-unie (AU) gaan hand aan hand met die bekendstelling van die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling, algemeen bekend as NEPAD, en die implementering van die Konferensie oor Sekuriteit, Stabiliteit, Ontwikkeling en Samewerking in Afrika (CSSDCA)-inisiatief. Hoewel hierdie drie prosesse verskillende inisiatiewe op die vasteland Afrika verteenwoordig, sal sukses op een gebied sukses op die ander gebiede beïnvloed en is hulle almal bedoel om die Afrika-renaissance vinnig te laat vorder en 'n Afrika-eeu 'n werklikheid te maak.

Die stigting van die Afrika-Unie (AU)

Die Afrika-Unie sal die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) vervang. Die Afrika-staatshoofde het die instelling van die Afrika-unie in Maart 2001 gedurende die Buitengewone Spitsberaad van die OAE in Sirte, Libië, bevestig. Suid-Afrika het op 23 April 2001 aangesluit en ingestem tot die stigting van die AU en tot die wet wat die AU instel, bekend as die "Constitutive Act" van die Afrika-unie. Daardeur het Suid-Afrika hom aangesluit by 35 ander Afrikalande wat die stigtingslede van die AU is. Dit is 'n trotse prestasie vir Suid-Afrika, aangesien die land nie die geleentheid gehad het om een van die stigterslede van die OAE te wees nie, omdat hy weens apartheid nie by internasionale aangeleenthede betrek is nie. Nou kan Suid-Afrika regmatiglik deelneem aan die stryd om 'n beter lewe vir almal in Afrika te bou.

Die "Constitutive Act" van die Afrika-unie vervang die Handves van die OAE. Die Handves sal egter van 11 Julie 2001 tot 10 Julie 2002 van krag bly, totdat die AU ten volle in werking is. Die AU sal nie bloot 'n voortsetting van die OAE met 'n ander naam wees nie, maar sal die ingeboude vermoë hê om die ekonomiese, politiese en maatskaplike ontwikkeling van die mense van Afrika te verbeter. Die Unie sal ook help verseker dat die vasteland Afrika beter daarop voorbereid is om die uitdagings van die 21ste eeu te hanteer en om die uiteindelike doel, 'n totale Afrika-eenheid, te verwesenlik. In Julie 2002 sal Suid-Afrika gasheer wees vir die eerste Spitsberaad van die Afrika-unie.

Wat is die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (NEPAD)?

Die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (NEPAD) is 'n Afrika-program vir Afrika-ontwikkeling. Die Vennootskap is die gevolg van die samesmelting, op versoek van die OAE, van die Millenniumvennootskap vir die Afrika-herstelprogram (MAP) en die OMEGA-plan. Die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling, wat nou amptelik bekendstaan as NEPAD, is op 11 Julie 2001 deur die Lusaka-spitsberaad goedgekeur. Die Vennootskap is 'n verbintenis deur Afrikaleiers om van armoede ontslae te raak en om die vasteland Afrika op die pad van blywende groei en ontwikkeling te plaas. Dit is gegrond op die beginsel dat Afrikastate goeie bestuur, demokrasie en menseregte toepas en terselfdertyd werk om situasies van konflik en onstabiliteit op die vasteland te voorkom en uit die weg te ruim.

Die stigtingsdokument van NEPAD bevat 'n strategiese beleidsraamwerk en ook 'n gedetailleerde Program van Aksie. Die Vennootskap sal met die volgende handel:

Vereistes vir ontwikkeling

Vrede, sekuriteit, demokrasie en politiese bestuur
Ekonomiese en korporatiewe bestuur, met die klem op die bestuur van openbare finansies
Streeksamewerking en -integrasie
Prioriteitsektore

Infrastruktuur
Inligtings- en kommunikasietegnologie (ICT)
Mense-ontwikkeling, met die klem op gesondheid, onderwys en die ontwikkeling van vaardighede
Landbou
Die mobilisering van hulpbronne

Die vermeerdering van spaargeld en kapitaalinvloei deur middel van verdere skuldverligting, verhoogde invloei van Amptelike Ontwikkelingsbystand en verhoogde private kapitaal, asook beter bestuur van openbare inkomste en besteding.
Suid-Afrika en ander Afrikastate wat 'n rol speel, is reeds besig met 'n breë program wat ten doel het om internasionale ondersteuning vir NEPAD te werf. Hulle pogings het reeds vrugte afgewerp deurdat ondersteuning vir die Vennootskap verkry is van belangrike internasionale en multinasionale liggame en konferensies, soos die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad; die G8-spitsberaad, asook die VN se Wêreldkonferensie teen Rassisme, wat in Durban gehou is. In 2002 sal hulle die Vennootskap neem na die Wêreldspitsberaad oor Volhoubare Ontwikkeling en die Konferensie oor die Finansiering vir Ontwikkeling, wat in Mexiko gehou gaan word.

Konferensie oor Sekuriteit, Stabiliteit, Ontwikkeling en Samewerking in Afrika (CSSDCA)

Die CSSDCA-proses is nog 'n belangrike inisiatief in die planne om die ideale Afrika-vasteland te ontwikkel, omdat dit 'n belangrike skakel sal bou tussen die verskillende bedrywighede waarmee die Organisasie vir Afrika-eenheid/Afrika-Ekonomiese Gemeenskap (OAE/AEG) tans besig is. Die Verslag van die Eerste Ministersvergadering van die CSSDCA, wat op 8 en 9 Mei 2000 in Abuja gehou is, is gedurende dieselfde jaar in Lomé deur die OAE/AEG-spitsberaad goedgekeur. Die CSSDCA sal help om 'n baie nodige skakel met die werk van die OAE/AEG op die gebiede van vrede, sekuriteit, stabiliteit, ontwikkeling en samewerking teweeg te bring.

Die vier Calabashes (Sekuriteit, Stabiliteit, Ontwikkeling en Samewerking) sal gedurende die verskillende Calabashes-vergaderings besprekings hou rondom die implementering van die CSSDCA-proses. Aan die einde van al hierdie vergaderings sal 'n Ministersvergadering gehou word om die aanbevelings van die Calabashes-vergaderings te ondersoek. Dit sal gevolg word deur die halfjaarlikse staande Spitsberaad, wat sal plaasvind op ongeveer dieselfde tyd as die eerste Spitsberaad van die Afrika-unie, wat in Julie 2002 in Suid-Afrika gehou sal word.

Die CSSDCA sal 'n beleidontwikkelingsforum verskaf vir besprekings en vir die bevordering van gemeenskaplike waardes binne die hoof-beleidsgroepe van die OAE/AEG. Om te verseker dat die CSSDCA produktief bly voortbestaan en dat dit binne die vasgestelde standaarde van die OAE/AEG geïmplementeer word, is daar ooreengekom dat 'n Staande CSSDCA-konferensie ingestel sal word, wat elke twee jaar tydens die Spitsberaad sal vergader en die CSSDCA sal evalueer. 'n Eenheid sal ook binne die OAE/AEG se Sekretariaat ingestel word om na die CSSDCA se werksaamhede om te sien.

Departement van Buitelandse Sake

Oktober 2001


Quick Links

Disclaimer | Contact Us | HomeLast Updated: 21 July, 2004 12:59 PM
This site is best viewed using 800 x 600 resolution with Internet Explorer 5.0, Netscape Communicator 4.5 or higher.
© 2003 Department of Foreign Affairs, Republic of South Africa